daniebotha-biografie

Biografie

Dit was al singende op die skoolstoep waar Danie Botha se sangtalent as 'n graad een-leerling deur 'n onderwyseres raakgesien is. Vandat hy kan onthou, was dit sy lewensdroom om 'n sanger te word.


Hy is op 25 Junie 1964 in Pretoria gebore. Sy kinderjare bring hy deur op Rietvlei, 'n kleinhoewe buite Rustenburg. Van kleintyd af is hy 'n natuurmens en dit is dan ook waar hy steeds elke beskikbare tydjie deurbring. Staptogte, duik, jag of diepsee-visvang.


Op laerskool presteer hy as leier en uitstaande sportman met provinsiale kleure in rugby, krieket en stoei. Tog was sang vir hom steeds sy groot liefde en vertolk hy deur die loop van sy skoolloopbaan hoofrolle in operettes soos "Student Prince" en "Sound of Music".


Tydens hierdie hoërskooldae leer hy homself kitaar speel en begin as sanger en musikant by verskillende funksies optree.
Na hierdie vol en gelukkige jare op Rustenburg doen hy sy diensplig as lid van die Suid-Afrikaanse Weermag se Kanariekoor, waartydens hy as solis optree.


Na sy diensplig gaan studeer hy aan die Potchefstroomse Universiteit en behaal 'n BA-graad in Bedryfs-en Personeelsielkunde. Musiek was egter steeds die passie van sy hart, en saam met die universiteit se dramaturg, Prof. Theunis Botha, bied hy tydens sy studentejare kamerkonserte regoor die land aan.


In 1988 begin Danie by Sanlam werk. Binne die eerste paar maande as sybaankandidaat word Danie se droom waar, en bevind hy homself oornag in 'n voltydse sangloopbaan!


Met die SAUK se aanbieding van "Debuut" kon hy deelneem met sy eerste eie komposisie; "Wie kan dit verstaan". Danie behaal 'n tweede plek in hierdie kompetisie en word 'n platekontrak aangebied. Saam met die kontrak word daar twee musiekvideo's opgeneem en kon hy inskryf vir die TV-kompetisie "Teletreffers" . Hierdie gewilde TV-reeks besorg hom 'n eerste en derde plek met "Wie kan dit verstaan" en "Wenners"! Na die uitsending van hierdie twee musiekvideo's begin die telefoon lui en word Danie landwyd uitgenooi om sy sang, musiek en passie vir die lewe, met die mense te gaan deel.


Binne die daaropvolgende week bring hy 'n orkes op die been, bedank sy werk en begin die land deurkruis met konserte. Sy eerste album, "Wenners," behaal binne drie weke na vrystelling goue status. Sedertdien word daar meer as 75 000 eenhede van 'Wenners" landwyd gespeel.


Vandag, drie-en-twintig jaar later, toer Danie steeds deur Suid-Afrika. Hy het in dié tyd vier sekulêre albums, agtien geestelike albums, sewe duet-CD's en vier dvd's vrygestel.

Dit was in 1993, na vier jaar as suksesvolle sanger en liedjieskrywer en op die kruin van sy loopbaan, dat Danie se lewe 'n radikale wending geneem het.


Na 'n ongekende hongerte vir die dieper betekenis en sin van die lewe...., loop hy hom vas teen die kruis van Jesus...! Dit was Jeremia 33:3 wat in hierdie tyd die antwoord op sy soeke was: "Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot ondeurgrondelike dinge waarvan jy nie weet nie".


Hy neem Jesus as sy Verlosser aan en gee aan Hom die totale beheer van sy lewe. Daar was van daardie dag af vir hom geen ander keuse as om God se roeping vir sy lewe te volg. Sy musiek het nog altyd die boodskap van hoop en lewenslus uitgedra, maar nou wou hy sing oor die Gewer van hierdie hoop en lewe.


Vandag, negentien jaar later, is Danie bekend as 'n "singende-prediker" en evangelis. En word hy steeds landwyd genooi om sy sang, musiek en passie vir die "Lewe": met honger harte te deel.

Op 28 September 1991 is Danie getroud. Hy het Daleen ontmoet tydens 'n koerant-onderhoud wat sy met hom moes voer. Albei het onmiddellik besef dat hul lewensmaats is. Danya, hul dogtertjie, is dertien jaar later gebore en vyf jaar later hul seuntjie, David-Daniël. Na jare van afwagting is hierdie twee die grootste geskenk uit die Vaderhand!!


Danie beskou sy sangloopbaan as 'n groot voorreg en is dankbaar dat die land hom die geleentheid gee om dit met hulle te deel. "Saam"; sê Danie, kan ons mekaar help om "oorwinning" na te streef, ten spyte van die wipplank-oomblikke waaruit die lewe bestaan.


Ons hoor die boodskap van hoop in sy musiek; sien dit in sy lewensvreugde; en weet dan verseker saam met Danie: "Dat dit lekker is om te lewe!