daniebotha-biografie

You are here: Home \ Getuienis

Danie se Getuienis

Dit was al singende op die skoolstoep waar Danie se sangtalent as 'n graad een leerling deur 'n onderwyseres raakgesien is. Sang en musiek was toe al reeds die begeerte van sy hart.
Gelukkige kinderdae op 'n kleinhoewe buite Rustenburg het sy lewe met liefde vir die buitelug, die natuur en sport gevul. Dis ook waar hy homself leer kitaar speel en begin droom het oor 'n loopbaan as sanger...., 'n droom wat vir hom oornag waar sou word in 1989!

Met diensplig en studies afgehandel, neem Danie deel aan die SAUK se destydse "Debuut"- kompetisie. Vir 'n tweede plek word hy beloon met 'n platekontrak en twee musiekvideo's. Daarmee skryf hy in vir die gewilde "Tele-treffers"- kompetisie. Met "Wenners" en 'Wie kan dit verstaan"; kry hy 'n eerste en derde plek. Na die uitsending daarvan die Saterdagaand, begin die telefoon lui. Teen Maandagaand het hy reeds 118 besprekings. Binne 'n week bring hy 'n orkes op die been en begin landwyd toer.

Vandag, drie-en-twintig jaar later, toer hy steeds. In dié tyd stel hy vier sekulêre albums, agtien geestelike albums en sewe duet-albums vry.

Danie het skaars vier jaar hierdie droom uitgeleef toe sy lewe en loopbaan 'n onkeerbare wending neem. In sy eie woorde deel hy sy getuienis:

"Ons dien 'n barmhartige, genadige en liefdevolle God, wat nie wil hê dat een mens verlore moet gaan nie (1 Tim 2:4). Daarom is elke mens wat lewe se getuienis net die bewys van 'n liefdevolle Pa wat verlore kinders kom soek het.

Daardie dag by die burgermeesters-tee in Potchefstroom, met sewehonderd vroue en drie mans, sal my vir altyd bybly! Dit was die dag wat ek vir die eerste keer in my nege-en-twintigjarige lewe, bewus geraak het dat daar baie meer in Christenskap is as kerktoe gaan en terugkom. Ek onthou die spreker wat voor my aan die beurt was, Gary Kiesweter, het opgestaan en vorentoe geloop met sy Bybel in die hand. Ek het nog "Farisererig" gedink dat 'n Bybel nie hier hoort nie. Dit is nie 'n Sondag nie... Min het ek geweet dat my geestelike ore op hierdie Saterdag-oggend oop sou gaan!

Binne die eerste vyf minute van sy Woordbediening was my hart honger en het die Heilige Gees my kom arresteer. Ek onthou die "hands-up" was die knop in my keel wat my sangsessie baie moeilik gemaak het.

Gary het Kol 1:27 as ankervers gebruik en die een eienskap van Jesus na die ander uit se gees gehaal. Dit was die Lewensbrood vir my hongersnood! Soos 'n tennisbal-diamant het dit in sy hand geglinster en ek het besef; - Danie..., jy's so arm soos 'n geestelike boemelaar!

Na daardie dag het ek 'n besluit geneem om ernstig te begin bid. Ek het nie geweet wat daardie Engelsman gehad het nie, maar ek wou dit ook hê! Ek onthou die maande daarna.., Ek het gedink ek gaan dit verloor. Ek het aanmekaar gebid en gesoek, geklop en gevra... Maar daar was net niks.
Omtrent ses maande vandat ek begin soek het, sing ek die aand in die Kimberley-teater. Ek was totaal moedeloos omdat niks meer vir my sin gemaak het nie. Ek wou net deur die aand se "show" kom, sodat ek die laaste lied, Dixiland (Gloryland) kon sing.

Met pouse het ek daardie aand letterlik agter in die kleedkamer op 'n hopie gaan sit en huil. Ek was aan die einde van my "konsert-krag".My vrou, Daleen, het kom inloer en my daar gekry. Sy vra my wat fout is en my antwoord was dat ek nie meer weet of daar waarlik 'n God in die hemel is nie. Hy antwoord my dan nie! Sy het in my aktetas begin soek na die pakkie koringkorrel-kaartjies en sê vir my; "Kom ons kyk wat sê die Here vanaand vir jou? Toe sy dit vir my gee het my hele liggaam vuurwarm geword. Ek sit nog en wonder of daar 'n God in die hemel is en 'n stem in die een oor sê vir my; "ek het jou mos gesê hierdie "Gospel-stories" is net daar om jou beter te laat voel". Toe ek afkyk op die kaartjie staan daar: "Roep my aan, en Ek sal jou antwoord, en jou bekend maak, groot en ondeurgrondelike dinge, wat jy nie weet nie!" (Jer. 33:3)

Toe ek daar opstaan vir die tweede helfte van die aand, was daar vuur in my gees. Bonatuurlik! Daleen het nogals gedink dat ek werklik 'n goeie "actor" is. Dieselfde ou wat nou-net gesit en huil het, sing nou asof hy die Idols-kompetisie gewen het.

Terug by die huis het ek vir haar gesê dat ek vir Gary Kieswetter gaan opsoek. Ek moes hom kry om hom te vra wat dit was wat hy het, wat ek nie het nie...en hoe kan ek dit ook kry!?

Ek onthou hoe 'n gevoel van vrede my aangegryp het toe ek op 26 November 1993 voor hulle huis in Pretoria stop. Toe ek hom vra wat dit was wat hy in hom het, was hy baie wys om nie op 'n godsdienstige manier met my te praat nie. Ek was nog altyd baie godsdienstig. Hy het my uitgeluister oor hoe ek twee keer 'n dag Bybel lees en bid, elke Sondag kerktoe gaan, my tiendes gee en uit 'n baie godsdienstige familie kom.

Hy het net sy hand op my skouer gesit en gesê; "Dan, you need to be born again! Repent of your sins and accept Jesus Christ as your Saviour!"
Sy woorde was skaars uit toe knak my bene onder my. Toe my knieë die grond raak het ek na God geroep. Hy het my in 'n eenvoudige maar opregte gebed na die Here gelei.

Toe ek daar opstaan was ek vry! Dit het gevoel of 'n ton bakstene van my skouers afgehaal is (Mat. 10:28).
Buite was die lig so blou, ek het die voëltjies hoor sing en mense van alle kleure was vir my mooi. 'n 'Jesus-hart" het my deur Sý oë na mense laat kyk. As die Seun jou vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees!

Met hierdie nuwe Lewe, Liefde en Lig in my hart, was daar vir my geen keuse of oorweging anders as om die roepstem van God te volg en ook my loopbaan vir Hom te gee. Dit was werklik geen besluit van my kant, God self het dit gedoen! Daarvoor prys ek Hom! Vir Sy weë! Sy genade! Sy wederkoms!

Halleluja!!"